So bietjie van ons

BIOGRAFIE

Ons Storie
2018

POSDUIF is ’n Suid-Afrikaanse musiekgroep met ’n vars energieke klank, wat opbouende lirieke met sterk melodieë kombineer.

Hierdie opwindende groep is in 2018 gestig en het hul debuut gemaak met die treffer, Brandy Special, wat reeds deur nagenoeg 500 000 mense op sosiale media gesien is.

Sedertdien het hulle drie ander enkelsnitte vrygestel – Een vir My, Laat Val Die Water, en Herinner My

Hulle eerste enkelsnit en musiekvideo, Niks Vergelyk, vanaf hulle debuut-album, met dieselfde titel word op 30 September bekendgestel en die album sal vanaf 28 Oktober beskikbaar wees.

Al hulle liedjies en musiekvideo’s is sover goed ontvang en het bo-aan die treffersparades van verskeie plaaslike radiostasies gekuier en duisende trefslae op YouTube gehad. Die groep is ook reeds deur Bok Radio genomineer vir Groep van die Jaar en Liedjie van die Jaar.

Die groep se unieke klank, passie vir musiek en vermoë om die positiewe in die lewe te vier maak van hulle ’n gewilde keuse onder oud en jonk. 

Die manne agter die musiek is

James Boland as hoofsanger en kitaarspeler. Hy is baie lief vir sy familie, vriende, reis en kultuur en wil graag hê dat die mense rondom hom gelukkig moet wees. “Musiek het ’n manier om stories met mense te deel en met elke liedjie deel jy iets van jouself,” sê hy. James glo daaraan om hard te werk, altyd sy beste te gee en nooit op te gee nie.

Ritmekitaarspeler en sanger, Nick Jordaan, is ’n oudleerling van Pretoria Boys High School met ’n graad in bemarking. Hy is iemand wat ’n goeie grap geniet. Musiek is ’n voertuig wat ’n wye verskeidenheid emosies oordra en vir my is daar niks beter as om te sien hoe iemand ’n liedjie saamsing wat ek geskryf het nie,” sê hy. As hy nie ’n loopbaan in musiek kon hê nie, sou hy graag ’n professionele sokkerspeler wou wees.

Brendan Campbell is die groep se vervaardiger en hoofkitaarspeler. Hy werk al vir agt jaar in die musiekbedryf en as jy hom uitvra oor sy loopbaanhoogtepunte, sê hy: “Ons is gelukkig genoeg om baie mense te ontmoet, beide in die bedryf en regoor die wêreld. Dit is vir my ’n groot hoogtepunt om so ’n diverse verskeidenheid mense te ervaar.”

Amiel Gopal speel baskitaar en geniet elke aspek van musiek en die musiekbedryf. Hy speel al kitaar vandat hy elf is en is al vir agtien jaar doenig in die bedryf. Amiel glo dat opgee net ’n opsie is vir diegene wat net doodgewone lewens wil ly… “So, as jy ’n buitengewone lewe wil hê, moet nooit opgee nie!”

Nick McCreadie het onlangs by dié dinamiese groep aangesluit as dromspeler. Hy is al versot op dromme vandat hy ses is en werk al tien jaar in die musiekbedryf. Nick is mal daaroor om op die verhoog te wees. “Dis ’n ongelooflike ervaring om op hierdie manier met mense te kommunikeer en dit motiveer my om aan te hou doen wat ek doen,” sê hy. Hy leef vir musiek en buiten daarvoor dat hy lid is van POSDUIF, is hy ook aan die stuur van die produksiehuis – Fundamental Entertainment.